Gholf groete aan ons lede,
Die gesegde “die enigste konstant in die lewe is verandering” was seker nog nooit so gepas soos om die afgelope jaar in die geskiedenis van die Bredasdorp Gholfklub te beskryf nie. Die klub bestuurder Werner Ferreira wat die klub vir n periode van 10jaar bestuur het, het bedank in Januarie en in Februarie het die Corona virus “Covid19” sy kop uitgesteek. Soos almal weet is die baan gesluit op die 29 Maart 2020 en is toestemming eers verleen op die 13 Junie 2020 om onder baie spesiale omstandighede spel te hervat.
Vir n periode van 11weke was daar geen bedryfs-inkomste vir die klub nie en daar moes noodgedwonge onkostes aangegaan word om die baan te onderhou. Baie dankie aan lede wat gedurende hierdie moeilike tyd gehelp het deur hul jaargelde vroegtydig te betaal. Dit het bygedra om die personeel en n paar van die lopende-uitgawes te betaal en om die baan in die goeie toestand te bring waarin dit nou verkeer.
Die Covid19 regulasie laat dit nie toe dat ons meer as 50 mense by die klubhuis by mekaar mag wees dus het die kommitee besluit om op die goedertrou van die lede staat te maak en die Algemene Jaarvergadering uit te stel tot sodra hierdie regulasie dit toelaat om weer almal saam tek an vergader.
Die finansiële state is deur die ouditeure nagegaan en afgeteken en is beskikbaar vir alle opbetaalde lede by die klubhuis. Die huidige kommitee lede is almal beskikbaar om hul termyn te verleng tot die nodige vergaderings gehou kan word. Ons doen ’n beroep op lede om asseblief, indien u enige kommentaar, bespreking, vraag of idee het om dit asseblief per epos of brief of nota onder die aandag van die komitee te bring. Onthou asseblief dat die komitee daar is om u, die lede van die klub te dien.
Die opwindendste nuus vir die klub is dat ten einde laaste daar n begin gemaak is met die ontwikkeling van die grond wat nie huidig deur die klub gebruik word nie. Lede sal miskien merk dat daar opmetings gemaak word om die baan en klubhuis area te skei van die ontwikkelbare grond. Hierdie is n baie lang en uitgerekte proses maar ten minste is die wiel aan die rol. Die ontwikkelaar het reeds ’n deposito betaal vir die reg om sekere vatbaarheid studies te onderneem en sal aan die klub rapporteer sodra hierdie voltooi is. Lede sal deurentyd op hoogte gehou word met die vordering van die projek en as Covid19 ons nie verder kelder nie behoort ’n volledige ontwikkelings voorstel voorgelê word aan lede voor die Desember seisoen.
Die Covid19 regulasies is baie spesifiek oor die dra van maskers, die sanitasie van hande en toerusting, die handhawing van 2.5 meter distansie en ook die beperking op die getal mense wat bymekaar mag kom. Met hierdie regulasies in gedagte gaan ons Saterdag die 22ste Augustus die Kaptein teen die Onder-Kaptein Saterdag noem, Saterdag die 5de September is die Klub Kampioenskap Saterdag en Goodwin Saterdag is op die 26ste September. Wie weet, ons is miskien dan al terug na normaal.
BREDASDORP
Gholfklub / Golf Club
Box/Bus 131
Bredasdorp 7280
028-424 1855
info@bredasdorpgolfclub.co.za
The friendly Golf Club nearest the Southern tip of Africa
Die vriendelike Gholf Klub naaste aan die Suidste punt van Afrika.
Onthou om tog asseblief by Elmarié te bespreek indien u op enige Saterdag wil speel.
Ons vra lede se geduld en ondersteuning gedurende hierdie tye met sy eie uitdagings.
Help ons asseblief om deel van die oplossing te wees!
Groete,
JD Terblanche
Klub Kaptein